De Villiers, bekend vir sy toewyding aan gemeenskapsveiligheid in Hartbeespoort, het op 11 Junie ‘n beroerte gehad en is Donderdag in die hospitaal oorlede.
Hy was die afgelope 33 jaar in die polisiediens en het nou saamgewerk met buurtwagte en ander veiligheidstrukture in Hartbeespoort.
Hy was ten tye van sy dood waarnemende hoof van die ondersteuningsdienste-eenheid by Hartbeespoort polisie.
Medelye het sedert Donderdag uit alle oorde ingestroom.
“Dit is met ‘n swaar hart, en met die allergrootste respek en waardering, dat ons vandag afskeid neem van ‘n legende in ons midde. Marius was nie sommer net ‘n man in ‘n uniform nie; hy was die toonbeeld van wat dit beteken om ‘n ware beskermer, ‘n dienaar van die reg en ‘n onwrikbare steunpilaar vir sy gemeenskap te wees,” het Johan Henning, vriend en buurtwaglid, in ‘n Facebook-plasing gesê.
“Sy betrokkenheid by ons gemeenskap se veiligheidstrukture, en veral sy noue verbintenis met die buurtwag, het gewys waar sy hart werklik gelê het. Hy was die brug tussen die polisiestasie en die gemeenskap.”
Romano van der Spuy, voormalige voorsitter van die Hartbeespoort Gemeenskapspolisiëringsforum, het ook sy respek en waardering vir De Villiers as geregsdienaar en mens uitgespreek.
“Sy skielik afsterwe is ‘n groot skok vir almal wat hom geken het. Hy het ons te vroeg verlaat. Marius was ongelooflik toegewyd en altyd bereid om met ‘n glimlag te help. Hy het baie gedoen om Harties veilig te maak. Hy was enig in sy soort.”
AfriForum Hartbeespoort het De Villiers beskryf as ‘n leier wat sy lewe in diens van die gemeenskap gelei het.
“Baie dankie vir u jare van diens, toewyding, leiding en die ondersteuning wat u altyd aan die gemeenskap en aan AfriForum gebied het. Ons eer u nalatenskap en sal u altyd met respek en dankbaarheid onthou.”
De Villiers laat sy vrou, Corrie, en kinders, Ruzeldi en Maco, agter.



