HomeCommunitySkryf in vir die 38ste Hartbeespoort Kunstefees

Skryf in vir die 38ste Hartbeespoort Kunstefees

Hartbeespoort-kunstenaars word uitgenooi om in te skryf vir die 38ste Hartbeespoort Kunstefees wat van 28 Julie tot 8 Augustus 2026 by verskeie venues in die omgewing plaasvind.

Die Hartbeespoort Kunstefees het slegs een voorgeskrewe kunstema. Deelnemers in die ander afdelings het totale vryheid ten opsigte van hul werke, stukke of aanbiedings.

Die kunstema vanjaar vir graad 000 tot 4 is ‘Natuurbewaring’. Volwassenes se kunswerke moet as vertrekpunt die natuur gebruik en geskik wees om vir ’n produk aangewend te kan word. Die tema kan ook in die ander genres gevolg word, maar dit is nie verpligtend nie.

Die sluitingsdatum vir inskrywings is 23 Junie 2026 en die inskrywingsfooi beloop R60 per item.

- Advertisement -

Die volgende afdelings word aangebied: kuns, drama, redenaars, klavier, instrumentaal, kitaar en klawerborde, populêre musiek, dans, formele sang en kore, modelwerk en skryfkuns. Die skryfkunsafdeling is uitgebrei en sluit nou ook limerieke, gedigte en kortverhale in.

Die volledige reëls, inskrywingsvorms vir alle afdelings, affiliasiefooie en datums van die verskillende afdelings word in ’n prospektus uiteengesit. Belangstellendes kan navrae rig deur ’n e-pos te stuur aan eurika.leroux@apms.co.za.

Die publiek is welkom om enige afdeling by te woon. Toegang is gratis.

Tydens die openingsaand op 28 Julie 2026 by Generaal Hendrik Schoeman Laerskool in Maraisstraat, Schoemansville, sal die publiek die geleentheid kry om die kunsuitstalling te bewonder en na plaaslike kunstenaars te luister. Die uitstalling sal ook gedurende die week vir besigtiging oop wees.

Skole, ateljees vir dans, sang, musiek en drama, asook individue en groepe, kan inskryf. Deelnemers van Pretoria en Potchefstroom neem ook vanjaar deel.

Kom geniet die 38ste Hartbeespoort Kunstefees, waar plaaslike talent van hoogstaande gehalte ten toon gestel sal word.

RELATED ARTICLES

Most Popular