HomeNewsBlomboer van Brits eerste vrou wat NW Jongboer-kompetisie wen!

Blomboer van Brits eerste vrou wat NW Jongboer-kompetisie wen!

Joy van Deventer (36), ’n blomboer van Brits, het verlede week geskiedenis gemaak toe sy die eerste vrou geword het wat as Agri Noordwes se Jongboer van die Jaar aangewys is.

“Dit is ietwat oorweldigend. Dit is ’n groot eer. Ek voel goed, maar was aanvanklik baie skepties oor my inskrywing. Ek hou daarvan om in die agtergrond te werk. Hierdie is bietjie buite my ‘comfort zone’,” lag sy.

Joy het slegs vyf jaar gelede op haar plaas, Berg en Dal, in Bokfontein met krisante begin boer en in dié kort tyd groot hoogtes bereik. Deesdae verskaf sy jaarliks miljoene blomme aan onder meer Woolworths, Pick n Pay en ander groothandelaars regoor Suid-Afrika.

“Ek is baie trots, maar ek bly nederig. Dit is harde werk, en dié toekenning bring net meer motivering om nog meer en beter te doen.”

- Advertisement -

Vir Joy is dit byna vanselfsprekend dat sy met blomme boer. “Ek het met blomme groot geword. My ouers het uit Nederland na Suid-Afrika gekom toe ek twee jaar oud was. Ons het op ’n plaas by Brits gewoon en my pa het vir ’n Nederlandse maatskappy gewerk wat plantsteggies verkoop het. My ma het ’n blommewinkel gehad,” vertel sy.

Ná skool het Joy saam met haar ma in die blommewinkel gewerk en is toe Nederland toe, waar sy kursusse in blommerangskikking gedoen het.

“Terug in Suid-Afrika het ek weer op die plaas beland en saam met my pa en broers gewerk. In 2021 het ek Berg en Dal gekoop en voltyds met krisante begin boer.”

Hoekom juis krisante? “Dit is ’n spesialiteitsproduk. Daar was ’n leemte in die mark en ek het dit aangegryp. Ek kon nie met my gunstelingblomme, tulpe, boer nie. Dit is nie koud genoeg hier nie,” lag sy.

Joy tussen haar krisante.

 

Sy werk sy-aan-sy saam met haar span werkers in die agt tonnels vol blomme op die plaas. “Ek glo ek moet te alle tye ‘hands-on’ betrokke wees sodat ek presies weet wat in elke proses aangaan. Dit is wat van my boerdery ’n sukses maak.”

Haar man, André, is haar grootste ondersteuner. “Hy staan 100 persent agter my en is baie trots.”

Sy is egter nie net ’n blomboer nie; sy is ook die ma van drie woelige jong seuntjies, Luuk (8), Arjan (5) en Bram (3).

Joy staan nou in lyn vir die titel van Nasionale Jongboer van die Jaar wat eersdaags aangekondig word.

“Intussen is ek besig met uitbreiding van die boerdery. Die aanvraag word al groter en ek moet uitbrei om in die aanvraag te voorsien. En dan is daar nog die voorbereiding vir die nasionale kompetisie…”

Met haar passie vir blomme en haar boerdery sal dit glad nie verbasend wees as dié dinamiese vroueboer vanjaar met die Suid-Afrikaanse Jongboer van die Jaar-titel wegstap nie.

 

RELATED ARTICLES

Most Popular