HomeNewsKrokodilaanval stuit nie dié mannetjie nie

Krokodilaanval stuit nie dié mannetjie nie

Die agtjarige Johandré Blom van Hartbeespoort, wat net meer as ’n jaar gelede sy arm in ’n krokodilaanval verloor het, stuit vir niks. Hy speel tennis, is ’n bobaas-“gamer” en het selfs sy eie YouTube-kanaal.

Johandré is in Maart 2025 deur ’n krokodil in die Roodekopjesdam naby Brits aangeval terwyl hy in die vlak water gespeel het.

Sy pa, Corné, het verbete geveg om sy seun uit die krokodil van meer as drie meter se kake te bevry. Johandré se arm is kort teen die skouer afgeruk.

Hartbeespoort News het gaan inloer om uit te vind hoe dit nou met dié knapie gaan.

- Advertisement -

Johandré, wat nou in graad 3 in Meerhofskool is, het onlangs ’n liggewig, liggaamsaangedrewe prostese ontvang wat deur bewegings van sy skouer en bolyf geaktiveer word. Dié prostese is deur Swanepoel Orthotics Prosthetics spesiaal vir Johandré ontwerp.

“Ons het spesifiek ’n haak gekies omdat dit ligter en in baie gevalle meer funksioneel is as ’n kosmetiese hand. Hy kan mooi sien wat hy vasgryp en dit kan hom help om alledaagse take met twee hande te begin doen,” sê Francois Swanepoel, ’n ortotis.

“Omdat Johandré se amputasie baie hoog en sy oorblywende arm baie kort is, was dit vir ons belangrik om die prostese so lig, eenvoudig en funksioneel moontlik te hou. Sy vlak van amputasie is ’n groot uitdaging. Dit gaan natuurlik oefening en tyd neem om dit ten volle te bemeester, maar hoe meer hy dit gebruik, hoe meer natuurlik behoort die bewegings vir hom te word.”

“Ek leer nog om met die arm te werk, maar dit is baie makliker as my vorige arm wat baie swaar was. En ek kan mense knyp,” lag hy. Johandré is bekend vir sy humorsin en algemene positiwiteit.

“Een van sy gunsteling-grappies is om met sy arms agter sy rug by iemand te kom en te vra: ‘Kies ’n hand’,” vertel sy ma, Amanda. “Johandré was nog altyd ‘n positiewe kind. Hy het selfs in die hospitaal na die aanval al grappies gemaak. Tuis het hy homself gou geleer om soveel goed as moontlik self te doen.”

Johandré is andersins ‘n gewone agtjarige seun wat hou van speel en trots sy skoolrapport vir my wys. “Dis ’n lekker skool en ek het baie maats. Ek speel nou tennis en padel by die skool. Dit is baie lekker!”

Volgens sy onderwyseres help hy ander graag. Hy stoot sy maats in hul rolstoele rond en is alte gewillig om te help waar hy kan.

Sy grootste passie is sekerlik aanlyn-rekenaarspeletjies. “Ek is goed. Ek het ’n hoë ‘score’. Ek gaan eendag ’n ‘gamer’ word,” vertel hy entoesiasties.

Johandré in aksie voor rekenaar.

Dit is ’n belewenis om hom te sien speel. Hy werk die speletjie-kontroleerder (gaming controller) met sy mond en een hand! (Sien video op ons Facebook-blad.)

Johandré en sy pa vang ook nog gereeld vis. Die krokodilaanval tydens ’n visvanguitstappie het hom nie afgeskrik nie. “My persoonlike beste is ’n 12kg-karp,” spog hy.

Nog ’n onverwagte belangstelling is krokodille! Hy doen navorsing oor krokodille en kan jou presies vertel wat die verskil tussen die soorte is. “Ek is deur ’n Nylkrokodil aangeval,” sê hy. En dan verduidelik hy die verskil tussen krokodille en ‘alligators’ …

Hy het onlangs ook ’n YouTube-kanaal geskep om te wys hoe hy regkom.

Johandré is ’n inspirasie vir dié wat met hom te doen kry. Een ding is seker … dié moedige mannetjie gaan hom deur niks laat onderkry nie.

 

RELATED ARTICLES

Most Popular