Wilma Lerm is omstreeks 20:00 in haar huis in die Mamogaleskraal-omgewing aangeval nadat die aanvaller ’n venster stukkend geslaan het. Weens die intensiteit van die houe het ’n deel van haar skedel versplinter. Sy is steeds in die hospitaal.
“My ma het pas van die kerk af teruggekeer en het by die eetkamertafel gesit om haar gebruiklike nagsê-boodskappe aan die familie te stuur toe sy ’n geweldige slag hoor. Dit het vir haar soos ’n geweerskoot geklink en sy het na die spaarkamer toe gehardloop,” het haar seun, Johan Lerm, gesê.
Net toe sy die kamer bereik, bars die aanvaller met ’n graaf deur die venster. Hy het haar met die graaf oor die kop geslaan, en toe sy omdraai om te vlug, is sy weer van agter oor die kop geslaan.
“My ma het na die agterdeur toe gehardloop. Die selfoon was steeds in haar hand en sy het gemaak of sy reeds iemand gebel het en om hulp geroep. Die aanvaller het haar by die kombuisdeur beetgekry, waar ’n worsteling ontstaan het. Hy het die selfoon by haar afgeneem en weer deur die venster gevlug.”
Ten spyte van haar beserings kon Wilma daarin slaag om na haar seun se huis op dieselfde plaas te hardloop.

AfriForum-buurtwaglede het onmiddellik gereageer en was kort daarna met spoorsnyhonde op die toneel. Die aanvaller het egter gevlug. Daar word vermoed dat ’n tweede verdagte buite die huis gewag het.
Wilma is met kopbeserings en verskeie kneusings en skrape oor haar lyf in die hospitaal opgeneem waar sy steeds behandel word.
“Dit gaan goed met my ma onder omstandighede. Sy het ’n operasie ondergaan om die splinters uit haar skedel te verwyder,” het Lerm gesê.
“Die venster het veiligheidsglas. Die aanvaller moes dit met groot krag gebreek het.”
Hartbeespoort News wag op polisiekommentaar.



